wenke

AWESOME gesprekke in ‘n japtrap!

Die verandering van Sondagskoolonderwyser na fasiliteerder in 5 stappe

Jy het al gehoor dat die rol van die kategeet verander het. Toe jy grootgeword het, het die Sondagskooljuffrou of -meneer “klas” gegee deur die les aan te bied en dan vir die groep vrae te vra. Die regte antwoorde is dan in ‘n boekie met oop spasies ingevul. Vandag weet ons dat kinders en tieners nodig het om oor geloof te gesels en vrae te vra. Hulle het ‘n veilige ruimte nodig om self antwoorde te ontdek en toepassings te maak. ‘n Kategeet is dus nou eerder ‘n mede-reisgenoot wat fasiliteer as ‘n onderwyser wat ‘n les aanbied.

Hier is 5 wenke wat jou kan help om die oorgang te maak:

 1. Herdefinieer jou eie rol
Ek wil jou challenge om minder aan jouself as ‘n onderwyser-aanbieder te dink en meer as ‘n fasiliteerder. Die verskil is subtiel, maar belangrik. Aanbieders leer en gee antwoorde (selfs al is jy interaktief). Fasiliteerders gee bloot die riglyne van die gesprek en beïnvloed die groep indirek. Fasiliteerders vra oop vrae en luister goed. Dit is ‘n moeilike, maar belangrike kopskuif om te maak!

 2. Skep ‘n veilige ruimte vir gesprekke
Elkeen moet sy/haar gedagtes kan deel sonder die vrees om deur jou of die groeplede tereggewys of verneder te word. Moenie vrae vra met regte en verkeerde antwoorde nie. Vra vrae oor elkeen se waarneming, ervaring of vrae. Begin met die woorde “Ek wonder…”.  Moenie dat een persoon of groepie die gesprek domineer nie. Help die groep om na mekaar te luister, te eggo en elkeen ‘n kans te gee.

 3. Wees aanpasbaar
Bly by die onderwerp. Dit is egter belangriker dat daar lekker gesels word as om deur ‘n aantal vrae en antwoorde te ploeg. Die les is ‘n riglyn vir ‘n reis, nie ‘n marathon om te voltooi nie. Soms kan daar van die onderwerp afgewyk word as daar byvoorbeeld iets in die week gebeur het wat die groep ontstel het.

4. Gee geleentheid om op verskillende maniere gesprek te voer
Moenie elke keer net in die sirkel om gaan nie. Gebruik ’n speletjie, musiek of ‘n storie wat die onderwerp illustreer en wat na die tyd bespreek kan word. Deel hulle twee-twee op om te gesels. Gee hulle tyd om eers hul opinies of ervarings neer te skryf of te teken. Verdeel hulle in twee of meer groepe om elk verskillende karakters in ‘n Bybelverhaal se ervaring te bespreek. Laat hulle die verhaal opvoer of oorskryf in ‘n moderne konteks. Laat hulle die verhaal (of toepassing) in ‘n lied/gedig opvoer of as koerantberig of plakkaat oorskryf of teken. Nooi ‘n besoeker om sy/haar getuienis te deel. Verander die ruimte of volgorde van die ontmoeting. Gebruik hulpmiddels of simboliek.

5. Onthou, daar niks wat gesprekke so awesome maak soos wanneer die groep jou en mekaar begin vertrou nie
Vat elkeen een-een uit vir milkshake of besoek hulle en hul gesin by die huis. Reël ‘n spanbou soos ‘n braai, DVD-aand of ‘n kamp. Stel belang in elkeen se lewe. Woon hulle sport of aktiwiteite by. Vra uit oor hulle belangstellings en hou tred met hulle nuus of leefwêreld. Deel ook van jouself.

Hierdie klink eenvoudig, want dit is. Al wat dit kos is ‘n paar doelbewuste skuiwe van jou as leier. Geniet dit!

Met dank aan Brendt Blanks, http://youthministry360.com/contributors/#brendtblanks

Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saam geloop. Luk 24:15

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

Hoekom nagmaal?

Gesels-en-doen wenke om kinders op die nagmaal voor te berei

Dit is deel van ons as ouers se verantwoordelikheid om voor en na elke nagmaalgeleentheid met ons kinders oor die betekenis van die nagmaal te praat.

Nagmaal is ‘n baie spesiale soort ete. Ons eet brood en drink wyn/sap om ons te help om te onthou dat Jesus aan die kruis gesterf het vir ons. Hy het betaal vir ons sonde omdat Hy ons liefhet en ons vergewe. Sy kruis (en die nagmaal) herinner ons dat Jesus ons liefhet en dat ons mekaar moet liefhê.

Hier is ‘n paar voorstelle om daarmee te help:

Gesels saam:

  • Wat is vir jou die lekkerste ete/s en hoekom? Bv. verjaardae, Kersfees, by ouma, braai…
  • Hoe het nagmaal begin? Matt 26:26-30
  • Wat beteken die wyn en brood by nagmaal? 1 Kor 11:23-26
  • Hoekom vier ons nagmaal?
  • Hoekom vier ons nagmaal saam met ander gelowiges?
  • Hoe is al 5 jou sintuie betrokke by die nagmaal?
  • Wat beteken die nagmaal? (Gesels oor een of meer van die volgende betekenisse: dit is ‘n herinneringsteken van die kruisiging; dit is ‘n vreugdefees omdat ons die opstanding ook vier; dit is ‘n gemeenskaplike ete wat ons aan mekaar verbind in die Liggaam; dit is ‘n geleentheid om ons sonde te bely en mekaar te vergewe; dit is ‘n geleentheid om te onthou dat ons elke dag afhanklik moet wees van Jesus; dit is ‘n verbintenis om ‘n verskil te maak aan die nood in die wêreld; dit is ‘n teken wat ons laat uitsien na die ewige lewe ens.)
  • Wat is ‘n gepaste manier om die nagmaal te gebruik?

Doen saam:

  • Woon saam die nagmaaldiens by.
  • Laat jou kinders tuis ‘n prentjie teken / uit ‘n tydskrif prentjies sny van brood en wyn en plak dit op waar almal dit kan sien.
  • Plaas hierdie week ‘n glasie wyn/sap en ‘n stukkie brood by ‘n kruis iewers in die huis om almal aan die nagmaal te herinner.
  • Maak ‘n plakkaat (kinders) of Facebook inskrywing (tieners) van alles waarvoor jy wil dankie sê vir God.
  • Maak toebroodjies of ‘n ete vir iemand anders / iemand in nood.
  • Bak saam brood of braai saam stokbrood en gesels oor Jesus wat die Brood van die lewe is (Joh 6:35).
  • Seën mekaar met die woorde: “Jesus het vir jou gesterf aan die kruis sodat jy kan leef!”

Nagmaal is ‘n wonderlike geleentheid om elke keer met jou kind/tiener oor geloof te gesels – moet dit nie laat verbygaan nie!

“Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 1 Kor 11: 24b

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)

Geloof is soos tande borsel

12 wenke om geloof deel van elke dag te maak

Geloofsgewoontes is gewoontes wat jou deurlopend help om geestelik te groei. Net soos die gewoontes van tande borsel, bad en drie etes per dag ons help om skoon te leef en gesond te wees, is dit belangrik om ook alledaagse geloofsgewoontes te hê wat jou en jou kinders geestelik voed. Deur elke dag geloof te “oefen”, versterk ons dit en groei ons saam!

Kan jy dink aan enige gewoontes of rituele in julle gesin wat julle reeds in plek het bv. Bybelstories lees, voor ete bid, kerk toe gaan ens.? Gesels saam oor watter nuwe gewoontes julle kan deel maak van julle gesinslewe. Hier is ‘n paar voorstelle:

  1. Maak elke week na kategese en kerk tyd om saam oor die boodskap te gesels.
  2. Skryf die teks of boodskap van die week iewers sigbaar neer.
  3. Kinders kan dit ook teken / opsoek in hul Kinderbybels.
  4. Tieners kan agtergrond inligting of die teks in ander vertalings saam met ouers op die internet soek.
  5. Lees saam as gesin ten minste een maal per week die Bybel/Kinderbybel en bespreek die verhaal/teks. Gee gereeld vir jou kinders ‘n bemoedigende teks in hul kosblik of SMS jou tiener/eggenoot.
  6. Maak tyd om sekere vaste etes saam te eet en gesels dan oor elkeen se hoogte- en laagtepunte van die dag.
  7. Maak ‘n gebedsbord waar foto’s van familie/vriende of koerantartikels geplak kan word. Kies by elke ete een persoon/saak om voor te bid.
  8. Bid deur die loop van die dag, nie net saans nie. Bid onmiddellik saam vir ‘n saak sodat gebed natuurlik deel vorm van julle saamwees.
  9. Gebruik tyd in die motor om te dink waarvoor jul dankbaar is of saam na geestelike musiek te luister/te sing.
  10. Vertel gereeld vir mekaar Bybelstories en verbind dit aan jul eie stories.
  11. Seën mekaar soggens, voor julle vertrek, as julle by die huis kom en saans.
  12. Gebruik simbole in jul huis om julle te herinner aan die kerkjaar (bv. vir Hemelvaart, Pinkster, Advent, Kersfees ens.)

 

Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte. Deut 6: 6-9

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)

7 Maniere om ‘n Bybelstorie te versterk

Het jy al daardie magtelose gevoel ervaar, wanneer jy ‘n Bybelstorie begin vertel (wat jy alreeds tien duisend keer vertel het) en jou kategesegroep staar jou aan asof jy ‘n vreemde taal praat?

Dit is belangrik om na afloop van ‘n Bybelstorie of -les ‘n aktiwiteit te doen wat die verhaal en die boodskap hersien, vaslê en versterk. Op hierdie wyse word die groep deel van die verhaal en onthou hulle makliker feite, name en die kernboodskap van die les.

Hier is 7 maniere om jou te help:

  1. Rollespel: Verdeel die kinders in twee groepe, gee vir elke groep ‘n kans om ‘n gedeelte van die verhaal in die vorm van ‘n klein dramatjie voor te dra. Laat hulle dit vir mekaar opvoer. Jy kan ook handpoppe gebruik om die storie vir hulle uit te beeld.
  2. Maak ‘n plakkaat: Verdeel die kinders in klein groepies. Gee vir elke groep ‘n A2 karton plakkaat. Hulle moet nou ‘n plakkaat ontwerp wat die boodskap van die les op ‘n baie duidelike manier aan ander kan oordra.
  3. Vertel vir iemand anders: Deel die kinders in twee groepe. Gee vir elkeen geleentheid om voor te berei om die belangrikste lesse wat hulle uit die les geleer het vir iemand anders te vertel. Laat een kind uit elke groep teenoor mekaar sit en vir mekaar vertel wat hulle groep besluit het die belangrikste waarheid van die les is en hoekom.
  4. Moderne vertelling: Gebruik hedendaagse karakters bv. 7de Laan, Disney karakters of maak name op en vertel die Bybelverhaal in ‘n moderne konteks.
  5. Skryf ‘n liedjie/kletsrym: Verdeel die klas in 2 groepe. Laat hulle ‘n liedjie of kletsrym (“rap”) skryf wat die storie uitbeeld en vir mekaar opvoer.
  6. Onderhoude: Voer ‘n onderhoud met die karakters van die storie en laat hulle vertel wat daar gebeur het. So plaas die kinders hulself in daardie situasie. Vra na die tyd wat elkeen daaruit geleer het.
  7. Ware verhaal: Soek ‘n eietydse storie van iemand wat die waarhede van die Bybelverhaal illustreer.

 

Met erkenning aan www.max7.org. Saamgestel deur Marinette Cilliers.

 

Hoe “groen” is jou God?

Ekologie begin by teologie

Ekologie, aardverwarming, herwinning… Die meeste van ons dink hierdie saak is belangrik, maar in die praktyk is dit ‘n ander storie. Hoe “groen” is jou en jou gesin se lewe? Dit hang natuurlik baie af van hoe “groen” jy dink jou God is!

Kom ek begin by die begin. Die mens is geskep as God se verteenwoordiger, Sy beeld, met die opdrag om die aarde te bewoon en te bewerk. Toe loop dinge skeef. Jesus kom om die mens te red, maar… o aarde! Wat van die aarde? Hoe verstaan ons vandag die mens se identiteit, opdrag en verantwoordelikheid?

Hoe “groen” jy dink, word dus bepaal deur jou teologie. As jy glo dat Jesus net gekom het om ons van ons sondes te verlos, gaan jy nie werklik die oortuiging hê om te herwin nie. As jy glo dat Jesus ons net roep om dissipels te maak, gaan daar nie veel tyd oor wees vir blikkies optel nie. As jy van oortuiging is dat die kerk se belangrikste taak is om sonde uit te wys, gaan ‘n wurmplaas laaste op die lys wees. En as jy dink die hemel is iewers anders as op aarde, gaan bome plant ’n mors van tyd wees. Om “groen” te dink, daag dus ook jou teologie uit!

‘n Gemeentelid noem aan my dat hy glad nie ‘n “groen mens” is nie, tog noem hy homself ‘n rentmeester?! ‘n Lidmaat vra my hoekom ons gemeente betrokke is by herwinning, dit het dan niks met die kerk te doen nie?! In kontras daarmee lees ek in ‘n boekwinkel agter op ‘n Bybel met die naam “The Green Bible – Harpers” die volgende woorde: “Jesus is coming… quick, plant a tree!”

Vir my is “groen” ‘n omvattende manier van dink oor God se Koninkryk. God het die mens EN die hele aarde lief. Sy redding en genesing is nie net vir siele nie, maar vir sy HELE Skepping. Sy Koninkryk is nie net die kerk nie, maar ELKE sfeer van die lewe. Om “groen” te wees beïnvloed elke aspek van my lewe, insluitend die manier waarop ek begeer, koop, eet, gebruik, besit, bewaar en weggooi. Dit gaan oor watter legacy my lewe agterlaat.

Wat kan jy en jou gesin prakties begin doen (of ophou doen) om “groener” te leef? Kom as familie bymekaar en besluit watter “groen” keuse julle saam kan neem.

Laat U Koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied… Matt 6:10

 

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)

 

The Love Generation

5 wenke om jou kategese groep prakties lief te hê

Bob Sinclair se liedjie “The Love Generation” som die generasie waarmee ons vandag in die jeugbediening werk, baie goed op. Hulle is jongmense wat gekenmerk word deur hul soeke na antwoorde in ‘n gebroke wêreld. Hulle verstaan diversiteit, tegnologie, pluralisme, samewerking en ervaring soveel beter as ons…maar hul staan ook krities teenoor enige onegtheid, apatie of skynheiligheid. So hoe kan ons hierdie generasie bereik?

Op een van ons belydeniskampe was daar ‘n besondere moeilike en uitdagende jong seun waarmee een van die kleingroepleiers gewerk het. Op ‘n stadium terwyl hul gesels, sê die leier: “Maar besef jy nie ek gee om nie, daarom wil ek jou help?!”. Daarop antwoord die tiener toe ewe verbaas: “Ek het nie besef Oom gee om nie, ek dog Oom is net nice”.

Hierdie gesprek het my weereens laat besef dat jongmense van ons verwag om “nice” te wees (ons is after all in die kerk), maar “nice” is nie goed genoeg nie! Hulle soek egte verhoudings en ‘n godsbelewing wat sin maak!

Indien hul 1 Kor 13: 1-3 sou oorskryf, sou dit sekerlik iets lui soos:

Al praat jy die lingo en kyk jy die regte flieks
Al is jy hoe goed voorberei
En ken jy al die antwoorde van die les
Al kan jy hoeveel Bybelversies opsê
Sonder liefde is dit leeg.
Al gee jy jou geld weg, loop in plakkies
Al is jy hoe cool en smooth
En dra jy studs in al die regte plekke
Maar jy het geen liefde nie
Baat dit jou niks.

Die vraag is dus, hoe kan jy tieners se soeke na liefde en ‘n egte godsbelewing in die praktyk ‘n werklikheid maak?

Hier is ‘n paar wenke:

  1. Verhoudingsbou een tot een, sowel as in die groep. Die bietjie ekstra moeite wat jy maak wys dat jy regtig belangstel.
  2. Relevante musiek wat uitdrukking gee aan egte ervarings. Maak moeite om kinders / jongmense se musiek te leer ken en dit te gebruik.
  3. Geleenthede om ‘n praktiese verskil te maak aan die nood. Jongmense se geloof word gevorm waar hul blootstelling kry aan nood. Daarom is diensprojekte, uitreike en uitstappies so belangrik om blootstellling te kry.
  4. Persoonlike bediening en gebed aan en deur die jongmense. Gebed is ‘n manier van omgee, vir mekaar sorg, mekaar op te bou en mekaar se geloof te versterk.
  5. Gesprekke oor elkeen se roeping en ‘n droom vir die toekoms. Wat leef in elkeen se hart? Wat is hulle drome vir die kerk of hulle eie lewens? Skep geleenthede om dit met mekaar te deel.

Op die ou end kan ‘n mens baie hoopvolle dinge aanpak, baie geloofswoorde deel, maar die grootste hiervan is: “be the love generation”.

Luister hier na die liedjie.

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

Tegnologie en jou kind

10 wenke vir positiewe gebruik van tegnologie in die huis

As die woorde “tegnologie” en “jou kind” in dieselfde sin gebruik word, dink ons dadelik aan pornografie, aanlynboelies, internetverslawing ens. Vandag se tegnologie het egter beide positiewe en negatiewe aspekte.

Hier is 10 wenke vir positiewe gebruik:

  1. Volgens navorsing is ‘n vasgestelde slaappatroon baie belangrik. Spreek af op ‘n vasgestelde slaaptyd vir almal. Begin ‘n uur voor slaaptyd af te skakel en rustig te raak. Moenie met selfone langs die bed slaap of musiek in die ore nie – dit versteur slaappatrone en verhoed jou om in “diep slaap” in te gaan.
  2. Stel duidelike riglyne wanneer dit kom by tegnologiegebruik. Beperk selfoon, TV, internet en so meer tot ‘n sekere aantal ure per dag en hou daarby.
  3. Jou kind se selfbeeld is sensitief en word maklik beïnvloed. Gee komplimente, moedig sterkpunte aan en laat jou kind selfversekerd voel in sy/haar eie liggaam.
  4. Tegnologie kan kinders ontneem van die geleenthede om werklike verhoudings te bou, want dis makliker om ‘n WhatsApp te stuur. Moedig jou kind egter aan om self oor moeilike en ongemaklike situasies gesig-tot-gesig te praat en fisiese tyd saam met vriende (en julle as gesin) te spandeer.
  5. Raak deel van jou kind se tegnologiese wêreld sodat jy kan saam praat.
  6. Wees ‘n voorbeeld van gesonde en gebalanseerde tegnologiegebruik.
  7. Weerhou tegnologie van die kind se slaapkamer en hou dit sentraal in die huis. Stel wagwoorde en beperkings wat ouderdom gepas is.
  8. Weet wat die inhoud is van wat jou kind/tiener kyk of speel. Google saam die resensies daaroor en besluit vooraf (saam) wat gepas is. ‘n Handige webwerf is commonsense.com
  9. Leer jou kind waarvoor om “nee” te sê. Wanneer jy aktief betrokke is by tegnologie en self die gevare kan raaksien, sal dit makliker wees om dit vir jou kind uit te wys.
  10. Gesels openlik (ouderdomsgepas) oor die gevare van aanlynboelies, pornografie ensovoorts en maak dit duidelik dat jou kind altyd eerlik (sonder vrees vir veroordeling) kan gesels oor enige iets wat hy gekyk het of beleef het wat hom onseker, bang of skaam laat voel het.

Die basiese behoeftes van kinders, met of sonder tegnologie, bly dieselfde. Hulle soek struktuur, erkenning, aanvaarding en liefde. Hulle kan dit nou net makliker en vinniger by ander naam- en gesiglose mense kry, as by ouers en vriende.

 

“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;  ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.  Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Matteus 5: 14-16

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).

My kind se vriende

15 wenke om jou kind / tiener te help met vriende

Ek onthou baie goed hoe my ma haar oor my broer, wat 3 jaar jonger as ek is, bekommer het. Hy was op ‘n baie stil, vroeë tienerfase. My ma het gewonder – het hy vriende en watter tipe vriende is hulle? Sy het my gevra om pouse op hom te “spioeneer” om meer uit te vind…

Dit is moeilik om in te meng by jou kinders se vriendskappe. Maar aan die ander kant het ons al almal gesien hoe ‘n kind kan vereensaam of verwoes kan word as gevolg van negatiewe “vriende” of groepsdruk.

Wat kan ons as ouers doen?

  1. Skep geleenthede waar jou kinders ander vriende kan maak wat ‘n positiewe invloed op hulle kan hê. Nooi vriende oor of reël ‘n uitstappie waarheen hy/sy potensiële vriende kan nooi.
  2. Help jou kind om verhoudings in ‘n positiewe omgewing te bou. Gesels vooraf oor wat hulle kan doen of oor gesels. Help ook jou skaam kind om te ontspan.
  3. Leer jou kind om Jesus as vriend te ken en sy voorbeeld te volg om ‘n goeie vriend te wees.
  4. Leer ken jou kind se vriende en hulle gesinne. Weet wie hulle is en watter waardes hulle in hulle huise leer.
  5. Doen rolspel oor hoe om moeilike situasies en versoekings te hanteer en help hom/haar om (vooraf) self aan alternatiewe en oplossings te dink.
  6. Versterk positiewe gedrag by jou kind en sy/haar vriende.
  7. Help jou kind om te dink aan maniere om boelie-gedrag raak te sien en te hanteer.
  8. Help jou kind om self introspeksie te doen oor sy/haar eie vriendskappe en hoe hy/sy ander hanteer.
  9. Gesels met jou kind oor hoe om konflik op te los.
  10. Leer jou kind om om te gee, vriendelik te wees en empatie te hê – ook met diegene wat nie noodwendig sy/haar vriende is nie.

Kyk na jouself en doen introspeksie:

  1. Kies ek goeie vriende?
  2. Is ek ‘n goeie vriend?
  3. Hoe beïnvloed my vriende my?
  4. Luister ek met aandag en deernis as my kind/tiener oor sy/haar vriende gesels?
  5. Gesels ek ook met my kinders oor my eie kinderdae vriende – hoe ek hulle gekies het, hoe hulle was en of ons goeie/slegte keuses gemaak het?

 

“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie”. Prediker 4:9-10

 Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).